RPE20-23 is regtig iets besonders. Ons glo die beste en manlikste bulle kom uit die vroulikste koeie en in RPE20-23 se geval is dit presies wat gebeur het. Sy ma is ‘n byna perfekte wigvormige vroulike koei. Sy is dan ook ‘n direkte dogter van die legendariese bul BG96-125. RPE20-23 se pa (PAD13-177) is ’n kombinasie van CSW01-14 en EI04-38 wat beide BG96-125 as voorvader het. RPE20-23 is dan 8% gelyn teel na BG96-125. Dit is hierdie lynteling wat RPE20-23 sulke goeie erfdwang ook gee. Ons het hom sterk gebruik in die kudde en sy erfdwang is opvallend. Mens herken sy kalwertjies in die veld van jonks af, sulke regte breë vierkantige kalwers. RPE20-23 dra besonders baie vleis en het die perfekte balans tussen bevleesing en bespiering, nat bespiering soos van ons bonsmara vriende dit beskryf. Verder het RPE20-23 vol binne- en buite dye, goeie balans van agter na voor, uitstekende kloue en bene, netjiese onderlyn, groot korrekte testis en 'n baie sterk breë bek (iets wat vir ons baie belangrik is vir veld hou vermoë). RPE20-23 is die tipe bonsmara wat ons mee wil teel.
Share
Whatsapp
Email
X
Facebook