‘n Besondere bul! Wat bouvorm, balans en raamtipe betref, is HMB 21-70 die tipiese top kwaliteit “multiplier” vir ons vleisproduksiekuddes. Hy het ‘n uitstekende toplyn, baie goeie diepte, perfekte testes, ‘n ideale skede, baie goeie bene en kloue, ‘n manlike kop met goeie oogbanke, goed ontwikkelde skof-ontwikkeling en besondere goeie vel en haar.
Die bul toon die ideale hoeveelheid bespiering op die voorkwart, rug- en skilpadspier en sy goed gevulde agterkwart - sonder oordadige bespiering wat kan lei tot distokia. Sy teelwaardes en prestasiedata is uiters geskik en van die beste vir ekstensiewe beesproduksie.
Die parings met sy vaderlyn vir bouvorm en bespiering met sy moederlyn, wat aanpasbaarheid, groei, doeltreffendheid en melkpotensiaal, het vir ons herhaaldelik voortreflike diere geteel. Die konstante voortbring van hierdie kwaliteit nageslag bevestig die vestiging van die genetiese samestelling van die diere, en behoort baie goeie erfdwang te hê met dieselfde kwaliteit eienskappe vir hulle nageslag.
Weens sy superioriteit het ons hierdie bul reeds twee dekseisoene gebruik om die voortbestaan van sy gene in ons kudde te fasiliteer, en kan nie wag vir sy nageslag nie. Ons beveel die bul aan vir stoetteling asook in enige produksiestelsel, hetsy speenkalf- of os-produksie, kruisteling of die aanteel van hoë kwaliteit vervangingsverse.
Share
Whatsapp
Email
X
Facebook