By lot 14 het die moeilike poging om lengte te verbeter, sonder om grootraamdiere te teel, uitstekend gewerk! Uit sy vaderlyn bring lot 14 goeie lengte in die kop, sterk rug met bitter goeie lengte en goed gevulde lende, wat uitloop op ‘n goed gevulde agterkwart met langwerpige bespiering - afgerond deur ‘n lekker lang stert! Uit die moederlyn het die poging om “lengte met lengte” te paar, baie mooi ge-“nick”. Die eienskappe is vir telingdoeleindes in pragtige harmonie, en die twee bloedlyne versterk mekaar, om ‘n beter nageslag op te lewer, wat bitter goeie waardetoevoeging tot ‘n kudde kan beteken.
Lot 14 het ‘n baie mooi gladde, dieprooi haarkleed, met pragtige verdonkering op die voorkwart. Oor die middelstuk is sy “happy lines” sigbaar, dus metabolies en funksioneel in balans met sy omgewing. Sy prestasiessyfers is ver bo-gemiddeld, en ondersteun sy sterk voor- asook na-speense groeiteelwaardes. ‘n Netjiese onderlyn, goed gevormde testis, soepel stert-aanhegting en ‘n pragtige balans rond hierdie bul se prentjie mooi af. Bo-gemiddelde prestasiesyfers en goed ontwikkelde fenotipe behoort beslis daardie ekstra kilogramme op ‘n beesskaal te plaas! Sy soepel bevlesing maak van hom die ideale keuse vir os-produksie stelsels, in suiwer Bonsmara boerdery asook kruistelingspraktyke.
Lot 14 is ‘n kalfgemakbul en kan as “all-rounder” vir boerderygemak aanbeveel word, optimaal vir speenkalf- en osproduksie.
Share
Whatsapp
Email
X
Facebook