Wanneer Huis Sarel Brandt sy agastoof gekry het, kan niemand onthou
nie. Wat ons wel weet is dat hierdie stoof honderde Wolramme se mae
volgehou het. Wie sal nog onthou hoe poetoepap, stywepap en
moerkoffie elke oggend op ons ou Aga geprut het. En ons eetsaal warm
gehou het in die snerpend koue wintermaande. Antrasiet (steenkool) het
met die trein op Marlow aangekom. Vir die twee stowe in die twee
koshuise. Dit was in die ouer dae nogal ‘n hoogtepunt in ons seuns se
lewens wanneer die antrasiet-trok op die sylyn geparkeer is, want dit het
beteken dat seuns moes help aflaai en aanry na die kolehokke, of die ou
rookhuis soos dit bekend was.
Op die nag van 7 November 1952, brand Huis Sarel Brandt af. Toe nog die
enigste koshuis op Marlow. Die volgende oggend kon die honger verwese
Marlowseuns darem mieliepap eet wat in die lou-oonde in die Agastoof
behoue gebly het.
Ons Aga se tyd is ingehaal deur die tegnologie van vandag. Daarom
verkoop ons hom op hierdie veiling. Die stoof is ‘n paar jaar gelede uit die
koshuis gehaal, ordentlik oorgedoen, en word in ‘n baie goeie werkende
goeie toestand aangebied.
Hierdie stoof is nie maar net nog ‘n stoof nie, dit was die een gereedskap
wat oor geslagte heen ons Wolrammesemae gevul het.‘n Marlowstoof!
Share
Whatsapp
Email
X
Facebook