HMB 22-91 is vanjaar se ysbreker by die G8 aanbod top kwaliteit veilingsdiere. Hierdie uitsonderlike bul is die toonbeeld van krag, bespiering en manlikheid. Hy dra massas spiere en vleis, het ’n goed gevulde toplyn, met uitstekende lengte, breedte, en algehele kapasiteit. Struktureel korrek, met korrekte bene en perfekte balans, toon hy gemaklike beweging. Die goeie kwaliteit fenotipe word genotipies ondersteun met sterk teelwaardes vir voorspeense asook na-speense groei, volwasse gewig en raamgrootte, wat hom ’n uitstaande vleisbul vir enige kudde maak. Opvallend is sy uitsonderlik bespierde agterkwart met die kenmerkende “perdehoef” bespiering.
Hy is meer as net ’n bul – hy is ’n genetiese “powerhouse”. Goeie bouvorm en strukturele korrektheid word uit albei sy ouerlyne vasgelê. Lot 1 is geteel om kuddeprestasie, karkasopbrengs en algehele produktiwiteit te verbeter, terwyl goeie genetiese vaslegging uniforme oorerwing met uitsonderlike vleis-eienskappe teweeg behoort te bring.
Lot 1 word aanbeveel vir alle vleisproduksie kuddes – speenkalf- asook osproduksie, asook kruisteling met koeie waar meer breedte en bespiering vir die nageslag vereis word.
Share
Whatsapp
Email
X
Facebook